



Die 2025-netbalseisoen was weer ’n jaar vol passie, groei en harde werk vir ons Laerskool netbalspanne. Die liga het soos altyd hoë standaarde gestel en sterk kompetisie gebring, maar ons meisies het met trots en selfvertroue gespeel. Hulle het Hoërskool Hoopstad se naam met trots gedra en hul groei as spelers en as span was merkwaardig om te aanskou. Hierdie seisoen was weereens ’n bewys dat toewyding en spangees tot groot dinge lei!
Wat ’n ongelooflike seisoen het Hoërskool Hoopstad se netbalspanne nie beleef nie! 2025 was ’n jaar gevul met uitsonderlike prestasies, harde werk en sportiewe triomf. Die 1ste span is deur na die Lejweleputswa-uitspele waar hulle ’n puik 2de plek behaal het. Daarna het hulle aan die Vrystaattoernooi in Bethlehem deelgeneem en teen top skole soos Oranje Meisieskool, Witteberg, Wilgerivier en Jim Fouché hul staal gewys. Masoso Selemogo, Mindi Greeff, Alana Steyn en Mia Vorster het met trots hul plek in die onderskeie Vrystaatspanne ingeneem. ’n Uitsonderlike prestasie is ook deur Mia Vorster behaal, wat tydens die Nasionale Netbalweek as een van die top 35 beste spelers in Suid - Afrika aangewys is en ook de beste doelskieter van die week. Hierdie leerders ontvang ook Volerekleure vir Netbal.





