






Die Laerskool rugbyspanne van Hoërskool Hoopstad het ons vanjaar bederf met uitstekende hardlooprugby en ’n seisoen vol hoogtepunte. Van die eerste afskop af het die spanne met passie, geesdrif en toewyding op die veld verskyn – en die resultate spreek vanself. Die liga het gesorg vir groot opwinding, en ons spanne het ons nie teleurgestel nie. Die o.9-span het met ’n 100% wenrekord deur die liga gestorm, terwyl die o.11-span ook as kampioene uit die stryd getree het. HJ Nieuwoudt verteenwoordig die o.13 B - Griffons span wat na Oos – Londen toer en vaar uitstekend. Wat ’n voorreg om só ’n talentvolle groep jong spelers in aksie te sien. HJ ontvang ook Volerekleure vir Rugby.
Die 2025-rugbyseisoen was weereens ’n toets vir karakter, vasberadenheid en spanwerk – en ons Hoërskool Hoopstad-rugbymanne het beslis hul staal gewys. Al was dit ’n harde seisoen, het ons seuns elke keer hul man gestaan en met trots en krag die skool se naam op die veld verdedig. Met die aanvang van die liga het die fokus verskerp en het ons spanne weereens mooi-hardloop rugby op die veld getoon. Taktiek, spanwerk en toewyding was duidelik sigbaar in elke wedstryd. Ons seuns het nie net gespeel om te wen nie, maar ook om die skool se trots en tradisie voort te dra. Jean Steenkamp, David van Niekerk, Ivan Jansen van Vuuren en Frans van Zyl het die Griffons Platteland spanne verteenwoordig en uitstekend gevaar. Hierdie leerders ontvang ook Volerekleure vir Rugby.





